Eeue gelede het die Spreukedigter gesê een van die dinge wat hy nie begryp nie, is hoe die liefde tussen 'n man en 'n meisie werk, en ons begryp dit nog steeds nie aldag in dié eeu waarin ons leef nie! Daarom bly dit ook lekker om verhale oor die liefde te lees, te meer nog as dit uit die pen van so 'n bedrewe skryfster kom.
Chanette Paul beeld die liefde tussen man en vrou in hierdie ses verhale op 'n realistiese manier uit - gegeur met stukkies fyn humor en splinters van die mitologie, wat van elke verhaal 'n besonder genotvolle leeservaring maak. Haar karakters is feilbare mense - nie onbesproke, vlekkelose wesens nie - wat uit hul foute leer.
Hulle weet dat liefde nie net rosegeur en maanskyn is nie, maar dat ware geluk en liefde baie keer eers ontdek word na 'n pad van val en opstaan, seerkry en loutering. Maar bo alles ontdek hulle dat ware liefde elke mens - jonk én nie meer so jonk nie - die kans gee om die foute van die verlede agter te laat en splinternuut te begin.
Ses liefdesverhale.