2013 – ʼn Jaar met vele aansigte: Januarie – Junie

Dit was ʼn opwindende jaar met baie hoogtepunte. Daar was egter ook ʼn hele paar rampspoedighede en hartseer. Omdat dit ook ʼn baie bedrywige jaar was, het my blog grotendeels agterweë gebly. Ek haal hier ʼn bietjie in oor wat in die eerste ses maande gebeur het op sowel skryf- as huisfront.
Januarie
Ek skryf nog aan Siende Blind en sukkel bietjie om weer die klou by die oor te bring. Lees meer daaroor by https://chanettepaul.wordpress.com/2013/01/18/gesoekdie-bevrore-hoender/
asook by https://chanettepaul.wordpress.com/2013/01/14/so-n-blivetse-storie/ .
In daardie stadium is ek bekommerd oor die titel wat toe nog Duiwelsvurk was.
ʼn Oulike artikel oor my, Karin Brynard en Riana Mouton verskyn in die Januarie uitgawe van die Rooirose.
Die Visvrou, my skryfhuis en Blom se wegbreekhuis, is in aanbou en ek bring meeste van die tyd in ʼn gehuurde kothuisie daar naby deur terwyl ek worstel om my skryfwerk en bouwerk in balans te hou. Blom werk op die River Rat en kan hom nie draai nie.
Februarie
Skryf en bou, bou en skryf!
Maart
By die Woordfees voer Francois Bloemhof ʼn gesprek met my oor Labirint. Ek sit ook in die fasiliteerderstoel by Knorhoek se wonderlik Towerbosch-restaurant en gesels met die sjarmante Deon Meyer oor sy uiters suksesvolle loopbaan as skrywer. 
En ek en Blom is 111 maande bymekaar. Hy reken darem nie dis ‘n Nelson nie en verras my die oggend met dié klein uitstalling op die stoep van die gastehuis!
ʼn Paar dae later is dit Pretoria toe waar ek prys vir Die Lekkerlit Boek van die Jaar in ontvangs neem vir Maanschijnbaai: Jo & Sue.
Dis vir my ʼn baie spesiale prys aangesien dit lesers is wat die wenner tussen tien wonderlike boeke aangewys het. 

Aan die einde van Maart trek ons met ʼn paar stukkies meubels in die Visvrou in. Dit voel meer soos kamp en alles eggo van die leegtes, maar my hart loop oor. Dis hier waar ek Siende Blind afrond.
Daar is darem ook tyd vir Earth Hour wat ons jaarliks op Stanford se meent hou.

April
Ek skryf dat ek hik en weet later nie meer watter kant toe nie omdat die storie vir my al meer soos my eie persoonlike blivet begin voel.
Siende Blind se finale manuskrip word egter aan die einde van die maand ingestuur en die produksieproses begin.
Op ‘n lieflike herfsdag hou ons ook ons eerste brunch op die Visvrou se bostoep.
Mei
Vroeg in Mei het ek min of meer probeer opvang met die jaar se gebeure tot indaardie stadium.
Lees meer by https://chanettepaul.wordpress.com/2013/05/04/opvangslag/#more-1175
Kwêla het kom kuier en die program is in Oktober gebeeldsaai. Susan Booyens was die aanbieder ek het tesame met Riaan, wat die regie gedoen het en Johan, die kameraman, ʼn pragtige insetsel daarvan gemaak. Dit was boonop heerlik om met die drie interessante mense te kuier.
Ek kuier ʼn paar dae later ook heerlik saam met die Bredasdorp leeskring en vertrek later as wat ek beplan het Franschhoek toe vir die PEG-kursus wat ek saam met Izak de Vries aanbied oor die redigering van romantiese fiksie.
Ook in Mei, terwyl Siende blind deur die produksieproses gaan, begin ek aan Raaiselspieël skryf. Dit het baie gehelp dat ek in my nuwe skryfhuis kon werk. Die skryfdeel verloop aanvanklik relatief vinnig, maar daar was soveel ander dinge wat tussenin gekom het, dat dit later vir my voel asof dit vir ewig vat!
Junie
Op 15 Junie durf ons, soos nou ʼn jaarlikse gebeurtenis op Stanford is, die yskoue Kleine Rivier aan in die Penguin Plunge. Ek wen ʼn bottel Jeripigo vir die koudste liggaamstemperatuur wat daardie dag gemeet is!
Gerard Scholtz en Jorrie van DeKatTV kom kuier en die program word uitgesaai op 3 November. Dis net vier minute lank maar ek dink dit het baie mooi uitgekom. 

Ons wei ook die Visvrou behoorlik in met ons eerste alikreukeloes! Teen dié tyd het ons darem al ‘n paar meubelstukke bymekaar geskraap gekry.
En toe ons weer ons oë uitvee, is die eerste helfte van die jaar verby.
Soos hulle in die tydskrifte sê: Word vervolg.