Annabella in haar nuwe glorie

Annabella in haar nuwe tabberdjie, het Dinsdag so stil-stil geland. Sy behoort binnekort op die rakke te wees.
Sy is reeds beskikbaar by Lapa – Annabella @ R165. Pos en verpakking is gratis in RSA.
Lees hier die eerste bladsy:
Pretoria, Desember 1922
“Liewe hemel, oom Gabriël, hoe lank moet ons nog wag dat julle oë oopgaan, julle verstand in rat kom?” Annabella skud haar kuifie ergerlik eenkant toe en plant haar hande op haar heupe. “As ek nog een keer ’n man moet hoor sê dat Afrikanervroue tevrede is om deur die manne in die parlement verteenwoordig te word, begin ek skree. Waar dink hulle het ons voor verlede jaar meer as vier en vyftigduisend handtekeninge op ’n petisie gekry?” Sy kyk haar ma se gunstelingbroer weerspannig aan waar hy op sy stoepstoel sit, net vaagweg bewus van die reuk van kanferfoelie wat teen die stoeppilaar agter haar oprank, swaar en soet in die Pretoriase laatmiddagsomerson.
“Stadig, Annabella!” Gabriël verskuil ’n glimlag agter sy pyp. “Daar is darem al groot vooruitgang gemaak sedert Merriman voorspel het dat vroue hul ‘feminine charms and feminine arts’ sal gebruik om hul doel te bereik!”
“Wel, sy argumente het nie die afgelope dertien jaar sedert hy daardie belaglike uitlating gemaak het, oortuigender geraak nie. Mens sou sweer daar word nog jag gemaak op hekse, so argaïes is sy benadering. Boonop verstaan hy nie die verskil tussen evolusie en revolusie nie.” Haar vingers speel ingedagte met die lang string pêrels wat teen die gladde lap van haar heuprok roer.
“Alle mans is darem nie so nie, Bella. Jy weet ek is ’n groot voorstander van vrouestemreg, en oom Jan sal nog die wa vir julle deur die drif trek, glo my.”
“Oom Jannie Smuts is een ding – al ry hy ook maar lekker wipplank omdat die regering so verdeeld is oor die saak – maar die res van die ou konserwatiewe knolle in die parlement! ‘Politiek sal die vrou verneder’ – wat ’n boel twak!”