BBos broei ʼn (ander) storie uit


Soggens kon ek buite skryf voor die son my begin vang het
My verblyf op Baardskeerdersbos, of BBos soos die locals dit noem, het alle verwagtinge oortref. En die van julle wat BBos ken, sal miskien net so verras wees oor die stukkie paradys wat ek die voorreg gehad het te beleef.
Dit het behoorlik gevoel of ek in ʼn verre land is waar dinge anders is en tyd verstadig het. Ek dink die foto’s sê alles.
Wat die hoeveelheid skryfwerk wat ek ingekry het betref, het ek ook my stoutste verwagtinge oortref. ʼn Nuwe rekord geslaan toe ek op een dag oor die 9 000 woorde geskryf het. Maar die hoeveelheid woorde per dag is nie so belangrik soos die hoeveelheid storie wat mens ingepas kry nie en ook dit het verstommend goed afgeloop. Dink ek. Hoop ek. En ook maar net uiteindelik.
Wat ek weer van voor af moes leer – en dit het gesorg vir ʼn paar dae van paniek – is dat ek nie goed is met beplanning nie. En ook dat ʼn storie nie geforseer kan word nie. Op ʼn manier besluit die storie self oor wat sy wil wees en as ek daarmee begin peuter, loop ek my rieme styf.
Maar miskien moet ek by die begin begin om te kan verduidelik.

My uitsig
Terwyl ek nog besig wat met Dryfhout het ek natuurlik al weer aan die volgende boek begin dink. Ek het besef ek gaan alweer ʼn nuwe fase in, ná die Gys-fase. Toe dink ek, hoekom nie weer ʼn romanse inpas voor ek besluit nie. Sit toe en maak ʼn paar aantekeninge oor ʼn idee wat by my posgevat het.
Nou ʼn romanse is so 44 000 woorde, maar toe ek my weer kom kry dring ʼn paar vroulike karakters hulle uit alle oorde aan my op. Hulle is familie kom ek toe agter en daar is vier van hulle. Ek besef toe dadelik, die spulletjie gaan nie tevrede wees om in een romanse ingedruk te word nie. Besef toe, oukei dis nou maar weer ʼn dikker boek. Ek laat dit toe daar en nadat ek Dryfhout klaargemaak het, gaan sit ek toe weer so na die vier girls en kyk. Toe dag ek die spulletjie wil elkeen ʼn eie boek hê.
Ek lê toe so min of meer die konsep van ʼn kwartet voor aan my uitgewer en sy sê nee, dis reg.

Van nader bekyk
En dis toe dat ek BBos toe gaan, doodgelukkig daarmee dat ek aan die eerste van vier boeke gaan skryf en dat elkeen so 80 000 woorde gaan wees – dis nou so dik soos die Daveltjies..
Moenie glo nie. Toe ek so by 40 000 woorde kom, weet ek die storie moet nou begin draai maak om vir die landing in te kom. Maar ek kry haar nie gedraai nie. Dag toe oukei, sy wil dalk bietjie langer wees. Teen 50 000 woorde, wil sy nog steeds nie draai nie en ergste van alles is, die karakter wie se boek ek gedink het ek besig is om te skryf, dis nou Jo Calitz, kry stywe kompetisie van haar tante, Sue. Teen 60 000 woorde, besef ek die spul het agteraf onder mekaar geknoei, maar ek weet nie wat nie.
Daardie aand gaan slaap ek in sak en as. Ek het my storie verloor, my karakters is blerrie agterbaks en ek weet nie waarheen nou nie.
Ek dink dit was Totius wat gesê het die slaap is ʼn wondersoete ding (of was dit wonderskoon?). Glo my, die man het geweet waarvan hy praat. Toe ek die volgende oggend wakker word en ek luister so na die watertjie wat verby stroom en die voëls en die paddas, is die eerste frase wat in my kop kom: nie vier nie, twee.
Ek hol af met die trap na my skootrekenaar, klap oop, wag ongeduldig dat ek by my manuskrip kan uitkom en scroll deur. So waar as wragtag. Sue en Jo wil in een boek wees en Nan en Jeannie in ʼn tweede. En hulle wil nie eens in 100 000 woorde ingedruk word nie, hulle soek ruimte.

'n Deur in bos kan tot baie dinge lei.
Tensy die vier van hulle weer begin muit, lyk dit dus vir my asof daar nou ʼn tweeluik gaan wees. Ek staan op die oomblik net so duskant 80 000 woorde (solank as wat die eerste boek moes gewees het!) en die storie het begin draai. Presies hoeveel ruimte Jo en Sue gaan nodig hê, weet ek nie, maar ek reken ek is so ʼn raps oor halfpad.
Nou moet ek eers weer vir ʼn week of wat my girls laat staan om manuskripontwikkeling te doen. Hoop nie hulle misbruik die tyd om met nuwe planne vorendag te kom nie en gebruik dit eerder om met my met ʼn lekker titel te verras. Want dié ontbreek nog jammerlik.
Hou duimvas!