Die draak se laaste asem


Vroeg in Maart het ek verslag gedoen oor hoe my “jaar van die draak” weggespring het. (https://chanettepaul.wordpress.com/2012/03/09/2012-die-jaar-van-die-draak-die-eerste-tien-weke/)
Min het ek toe geweet dat daardie draak se asem die heeltyd in my nek gaan bly blaas en die kanse is goed dat dit gaan aanhou blaas tot die Sjinese jaar op 9 Februarie 2013 eindig. Ek weet nie wat om van die “Jaar van die slang” wat op 10 Februarie 2013 begin te verwag nie. Ek hoop dit gaan rustiger.
Agterna beskou was dit ʼn woeste, maar goeie jaar. My blog het gely onder al die druk en die lang rukke wat ek dikwels van die huis af weg was, maar daar was baie hoogtepunte. Die verskyning van drie boeke, naamlik die Maanschijnbaai-tweeluik en Labirint, was natuurlik geweldig opwindend en so ook die wavrag bekendstellings wat daarmee saamgegaan het. Daar was egter ook ander lekkertes waaroor ek nie altyd tyd gehad het om te berig nie. 
Omdat ek bietjie flou is, het ek net ‘n klein galery gemaak van ʼn paar van hierdie lekkertes wat die afgelope jaar vir my opgelewer het.
Baie dankie vir almal se ondersteuning – hier op die blog, op Facebook, per e-pos en almal wat van die bekendstellingsgeleenthede bygewoon het.
Mag julle ʼn wonderlike feesgety beleef en genoeg krag kry vir ʼn baie voorspoedige nuwe jaar!
























