Nuus

Die lekkerste van skryf.

31 Maart 2012

Daar is twee hoogtepunte in my lewe as skrywer. Wanneer ek aan ʼn nuwe storie begin skryf en wanneer ek daardie boek uiteindelik in my hande vashou – dit beruik en bekyk en bevoel, deurblaai en wonder hoe ek dit reggekry het.

Alles wat tussen hierdie twee hoogtepunte gebeur, is harde werk, ʼn geween en gekners van tande, tye van paniek en tye van desperaatheid. Al wat jou daar deur kry is deursettingsvermoë, geloof in jou storie en karakters, ‘n knerts magic en daardie wonderlike ding wat in Pandora se boksie agtergebly het: hoop.

Op die oomblik bevind ek my weer by die eerste hoogtepunt. Met die Maanschijnbaai-tweeluik wat nou feitlik in kanne en kruike is, staan ek aan die begin van ʼn nuwe avontuur wat uiteindelik, hopelik, ʼn boek gaan word.

Dis skrikwekkend, want mens weet eintlik nie waarheen jy op pad is nie. Dis opwindend en wonderlik, want… wel… want jy weet nie waarheen jy op pad is nie. En jy kan nie wag om uit te vind nie.

Daar het baie water in die see geloop vandat ek laas ʼn enkelstaande boek geskryf het, soos ek nou beplan om te doen.

Eers was daar die Daveltjies toe Lapa versoek het dat ek ʼn opvolg vir Tamara skryf en dié toe kleintjies gekry het tot daar uiteindelik sewe Daveltjies was.

Daarna het ek met Springgety begin wat ʼn enkelstaande boek sou gewees het tot Gys Niemand sy neus in my sake en storie kom steek het en toe uiteindelik ʼn reeks van vyf geword het.

Ná die Gyse wou ek ʼn blaaskans vat en wegbeweeg van moorde en polisieprosedures, en my losmaak van Gys voor ek my volgende spanningsroman aanpak. Ek het besluit ek gaan ʼn romanse skryf, net om weer asem te skep en omdat Romanza-liefhebbers my al gevra het wanneer skryf ek weer een.

ʼn Jongerige vrou, Jo, en Jeannie, haar dogter wat pas uit matriek is, kom ʼn klein kusdorpie aan na ʼn moeilike tydperk in hulle lewe. Dis waarmee ek begin het. Ek kom toe agter Jo het ʼn ma met die naam van Nan en dat dié ook ʼn verlede het.

En toe op ʼn dag, kom Nan se suster, Sue, met haar lang treë aangestap en tik my op die skouer. Hei, sê sy vir my, jy kan nie daai drie girls in een storie probeer prop nie, en wat van my? Oukei, besluit ek toe, sy het ʼn punt beet. Ek sal twee romanses oor die vier van hulle kan skryf.

En daar betrap die vier Calitze my totaal en al onkant. Soos dit nou maar eenmaal met die skryfproses gaan, het ek my karakters en hulle stories heeltemal onderskat. Eers het ek gedink, oukei vier romanses. Toe kom ek agter dit gaan glad nie werk nie en besluit op vier liefdesromans van so 80 000 woorde elk. Wou nie ook werk nie. En toe kom ek agter ek gaan maar net moet skryf en kyk wat word.

Uiteindelik het ʼn storie wat bedoel was om een romanse te wees, dit wil sê ʼn storie van 42 000 woorde, twee boeke geword van oor die 155 000 woorde elk. En die oomblik toe Sue haar toetrede maak, het die romanse-genre boonop by die deur uitgevlieg. Die tweeluik is nou ʼn familiedrama met ʼn knypie spanning en ʼn heelwat humor ingemeng.

Die Maanschijnbaai- tweeluik bestaan dus nou uit Maanschijnbaai: Jo & Sue wat in Julie verskyn en Maanschijnbaai: Nan & Jeannie wat in September verskyn. Weer twee baksteendikte boeke.

In die verlede het ek altyd probeer sorg dat my boeke in ʼn reeks nie in volgorde hoef gelees te word nie. Met die Calitze het ek my eie reël oortree. Nie omdat ek wou nie, maar omdat dit net is hoe die storie uitgewerk het. Die twee moet dus in volgorde gelees word aangesien die tweede deel te veel van die eerste deel verklap en die leser se genot sal bederf.

Wat ek met hierdie lang relaas wou sê, is dat ek nie die vaagste benul het wat van ʼn storie gaan word wanneer ek daaraan begin skryf nie. Ek staan nou weer op daardie skrikwekkende, opwindende punt.

Dis vir my asof die verhoog gereed is vir die drama om af te speel. Die spelers (karakters) het hulle rolle ingestudeer en ken die storie. Hulle is gereed vir die openingsaand van die toneelstuk.

Ek sit in die donker ouditorium. Stoksielalleen. Ek weet nie eens wat die drama se naam is nie, laat staan waaroor dit gaan. Al wat ek weet is dat daar in hierdie drama minstens een moord gaan plaasvind. Al wat ek kan sien vanwaar ek sit, is die swaar fluweelgordyne wat voor die verhoog dig getrek is. En dan begin die gordyne roer. Millimeter vir millimeter word dit oopgetrek, begin ek karakters eien, begin ek sien waar die eerste toneel afspeel, begin ek vermoed wie die goodies is en wie die baddies.

Gister het ek die eerste hoofstuk geskryf. Ek weet uit ondervinding dat so ʼn eerste hoofstuk nooit teen die einde van die storie lyk soos hy in die begin daar uit gesien het nie. Soms word dit die vierde of tiende hoofstuk. Maar dis ʼn begin.

Ek het die skilder Vasti de Leeuw ontmoet en vir Simon Sonnekus, ʼn sielkundige. Ek weet Vasti is die hoofspeler, maar ek weet nog nie waar Simon inpas nie. En daar is die dokter, Dawid. Ek weet dit speel op ʼn dorpie in die Overbergse binneland af, eintlik twee dorpe naby aan mekaar geleë. En daar is ʼn rivier.

Omdat mens die dokument ʼn naam moet gee, het ek besluit op Labirint. Of dit die titel gaan word, weet ek nie.

En nou kan ek nie wág om meer uit te vind nie.

← Terug na nuus

Meer nuus

Lira: Proestukkie3 Mei 2019 LIRA – lokprent18 Apr 2019 Suider-Afrikaanse VVV-bulletin: Jojo Richter5 Mei 2018 Nuusbrief – Maart 201825 Mrt 2018