Nuus

Diep die doolhof in.

18 Junie 2012

In ʼn Maart-blogpos (Die lekkerste van skryf) het ek aan die begin van die opwindende reis wat ʼn nuwe manuskrip mens bied, gestaan. Daar waar mens nog voor die verhoog sit waar jou storie gaan afspeel, het ek toe gedink. Ek het sedertdien uitgevind dat ek my in daardie stadium eintlik voor die ingang na ʼn ondergrondse doolhof bevind het.

Nou het ek die eerste groot mylpaal bereik. Die Eerste Draft. Dis ʼn term wat hoofletters verdien. En ek hou by die Engelse term ‘draft’ omdat eerste weergawe of eerste fase nie vir my dieselfde sê nie.

Wat dit beteken, is dat die storie uitgeskryf is. Ek weet nou wat gebeur het en hoe dinge in mekaar steek. En dit het gestalte gekry in manuskripvorm.

Dit beteken ook baie harde werk lê nou voor. Nou kom die tweede fase waarin ek die manuskrip sover moet kry dat ek dit na ʼn uitgewer kan stuur vir keuring. Op die oomblik is die manuskrip rou. Daar is nog storiefoute, tikfoute, goed wat bots, goed wat gekontroleer moet word, raad wat gevra moet word, inligting wat ingewin moet word en oor die 120 voetnotas oor goed waarvan ek moet seker maak. Maar die storie is daar.

Die labirint van Knossos en die mite van die minotaurus is die grondslag en stramien van hierdie roman. Die titel is vasgemaak, my storie heet nou Labirint. Dis ironies, want in die skryf van hierdie storie het ek my behoorlik in ʼn ondergrondse doolhof bevind.

Volgens moderne definisie is die labirint iets heel anders as ʼn doolhof.

Die doolhof het ʼn soektog na die middelpunt ten doel. Daar is meer as een roete na die kern en die doolhofskepper probeer die dwaler verwar en uitoorlê, vasvang in die web van die roete.

Die labirint daarenteen, is ʼn komplekse, maar aangeduide enkelroete met ʼn sigbare, relatief maklike bereikbare kern. Mens loop ompaaie en draaie, maar jy kan nie anders as om by die kern te kom nie en jy kom net so maklik weer daar uit. Die labirint is eintlik die vereenvoudigde simbool van die doolhof.

(Sien onder meer hier hoe die labirint en doolhof verskil).

Die doolhof waarin ek rondgedwaal het, was nie ʼn statiese een nie.

Aan die begin van die storie het ek byvoorbeeld nie geweet daar gaan ʼn karakter wees met die onaanskoulike naam Vis nie.

Toe Vis êrens uit die doolhof uitgespring kom, kon ek dit nie glo nie.  Nee! sê ek vir hom. So ʼn naam sal nooit deug nie. Maar Vis wil niks weet van ʼn ander naam nie. En so kry Vis Franken toe nie net ʼn ou rolletjie in my storie nie, maar kaap dit omtrent.

En toe ek my kom kry, is daar boonop ʼn legende van ʼn leeuman wat my hoofkarakter, Vasti de Leeuw, se lewensreis versuur, en uiteindelik ʼn verreikende effek op die storie het.

Nog iets wat ek glad nie voorsien het nie, is dat daar toe soveel moorde gaan plaasvind. Ek het my moordenaar se moordlus en wraakgierigheid heeltemal onderskat.

En die stories uit die verlede het heeltyd net al hoe meer impak op die hede gekry, sonder dat ek dit doelbewus so beplan het.

Soms het ek vir dae lank gevoel of ek my vasskryf, net om kort daarna te sien waarheen my onderbewussyn my gelei het. Natuurlik nog dieper in die donker gange van die verbeelding in.

Ek is nog nie heeltemal uit die doolhof nie, maar ek is darem al naby genoeg aan die uitgang om lig te kan sien insypel.

Nou moet ek hoop dat ek met die eerste herskrywing – ja, daar wag meesal meer as een – nie gaan agterkom dat ek te veel blapse gemaak het nie.

Iets waarvoor mens byvoorbeeld in die spanningsgenre versigtig moet wees, is dat die skuldige te vroeg geëien kan word. En dis baie moeilik om te bepaal. Vir my voel dit asof elke liewe leser deur my truuks gaan sien.

Nog iets waaroor mens jou bekommer, is of die spanningslyn sterk genoeg is en of dit op die regte plekke styf genoeg getrek word.

En dan is daar die geloofwaardigheid. My stories het met die regte lewe min gemeen. Ek glo my lesers verstaan dit, verwag dit selfs van my. Dat hulle, soos ek, vir ontspanning lees en meegevoer wil word na ʼn denkbeeldige wêreld. Hierdie denkbeeldige wêreld moet egter voel soos die/ ʼn regte wêreld terwyl mens lees. Die karakters en alles wat gebeur moet geloofwaardig wees – binne die konteks van die storie, maar ook in die werklikheid. Mens moet as leser kan glo dis regte mense en wat plaasvind, is regtig aan die gebeur – al weet jy op ʼn ander vlak dis suiwer fiksie.

Met herskrywing is dit asof die skrywer van die verwarrende doolhof ʼn verstaanbare labirint probeer maak.  Al die doolgange waardeur die skrywer worstel, moet vir die leser gekompliseerde, maar enkelroete word wat na die kern en terug lei.

Dis die taak wat nou vir my voorlê. Dus, soos die oumense gesê het: Hef aan lê voor!

NS. Daar bestaan ʼn sterk moontlikheid dat Labirint al hierdie jaar gaan verskyn. Moontlik in Oktober.

← Terug na nuus

Meer nuus

Lira: Proestukkie3 Mei 2019 LIRA – lokprent18 Apr 2019 Suider-Afrikaanse VVV-bulletin: Jojo Richter5 Mei 2018 Nuusbrief – Maart 201825 Mrt 2018