Dryfhout se omslag as lusmakertjie!

Op hierdie einste oomblik is Dryfhout in die proses om gedruk te word.
Dis vir my altyd wonderlik om te dink dat wit blaaie in hierdie proses ink op kry, dan gebind word, dan omslae kry en die resultaat is nie net papier en ink nie. Iemand gaan daardie boek optel, die vreemde swart strepies en kolletjies op die blaaie met hulle oë en verstand dekodeer en ʼn hele storie daarvan maak. Die leser gaan nie net lees nie, maar ook in haar kop visuele prentjies maak, deel word van ʼn verbeelde fliek. En as sy soos ek is wanneer ek lees, kan hoor en sien vergaan terwyl sy daarmee besig is.
ʼn Storie wat in my kop afgespeel het terwyl ek skryf, speel dan nou ook af in die leser sʼn. Dis amper soos ʼn wonderwerk.
Ek tel al die slapies tot ek Dryfhout in my hande kan hou, die ink kan ruik en die tekstuur van die papier kan voel.
Laat hoor gerus wat julle van Dryfhout se omslag dink.
