Nuus

Ek en Rut in tuine van eerbied

25 November 2011

 My laptop is soos Rut. Waar ek gaan, gaan sy saam. Soms vlug ons doelbewus hand aan hand om aan ʼn storie te gaan werk en vergeet vir ʼn rukkie van die res van die wêreld.

Dis op so ʼn vlugtog dat ek en Rut toe vir twee weke op McGregor by Temenos beland.  Van dagbesoeke af, het ek reeds geweet dis ʼn magiese plek. Om soggens deur die poue wakkergeroep te word, tussen die skrywery deur in die tuine te stap, saans by The Well te gaan sit en my weergawe van ʼn meditasie te pleeg, plaas alles egter in ʼn heel ander dimensie. 

Die Temenos tuine is ʼn spirituele belewenis. Daar word geen onderskeid tussen godsdienste gemaak nie. Van ʼn Hindo-tempeltjie tot ʼn vredeskruis, van ʼn Boeddha tot ʼn klipsirkel met rune-simboliek. Alles het sy plek en sy bestaansreg.  ʼn Engel vir verlore kinders, staan nie te ver van ʼn moskee in die kleine nie, die menora in ʼn nissie bo ʼn watertjie wat loop, is ʼn klipgooi van die kerkie met ʼn houtkruis in die venster.

Ek het nie net met my Rut se magie aansienlik voller terug gekom nie, maar ook met ʼn ryker gees, ʼn groter innerlike rustigheid.

En ʼn vraag: Hoekom kan die res van die wêreld nie soos Temenos wees nie? Verdraagsaam en eerbiedig. Spiritueel in die wydste moontlike sin. Sonder oordeel of vooroordeel.

ʼn Mens moet daar wees, daar rondloop en werklik inneem, om dit ten volle te kan waardeer, maar stap saam met my deur die tuine van Temenos en verbeel jou die tuin waarin ons elkeen sou kon woon as ons almal werklik respek vir mekaar het.

(Meeste van die foto’s kom van die webblad http://www.temenos.org.za/ , ander het ek self geneem).

← Terug na nuus

Meer nuus

Lira: Proestukkie3 Mei 2019 LIRA – lokprent18 Apr 2019 Suider-Afrikaanse VVV-bulletin: Jojo Richter5 Mei 2018 Nuusbrief – Maart 201825 Mrt 2018