Nuus

Hou jy van reekse?

21 Mei 2010

My spanningsromans was nooit veronderstel om ʼn reeks te word nie. Ek het Springgety geskryf as ʼn boek op sy eie. Soos ek voorheen genoem het, het Gys dit egter in sy kop gekry dat hy in Fortuin ook ʼn eier kan lê.  Dis eers daarna dat ek besef het hier is ʼn reeks in wording.  En dit terwyl ek dit wou vermy na die Davel-reeks.

Ek het baie lekker geskryf aan die Daveltjies, maar om ʼn reeks te skryf het sy voordele en sy nadele.  Dis moeilik om die agtergrond waarteen die boeke afspeel – insluitende omgewing, karakters en gebeure – in elke boek van nuuts af te weergee. As mens te veel daarop hamer raak dit vervelig vir die leser wat die vorige boeke al gelees het. As mens te min inligting gee oor wat in vorige boeke duidelik geword het, verwar mens die leser wat vir die eerste keer een van die boeke lees of dit nie in volgorde lees nie. En in die spanningsroman spesifiek, kan mens ook nie so ʼn leser se leesplesier ontneem deur te laat blyk wie die moordenaar in ʼn vorige boek was nie!

Die voordeel is natuurlik dat mens met deurlopende karakters werk wat jy later so goed soos vriende, selfs familie, leer ken. En dis nie net die skrywer wat dit ervaar nie. Een leser het my onlangs laat weet sy kan nou nie meer wag vir Meetsnoer nie – sy mis haar familie! Die deurlopende karakters bind dus die boeke saam tot eenheid en skep ʼn gevoel van vertroudheid.

Wanneer mens ʼn reeks skep vorm daar later ʼn patroon.  Dis nie doelbewus nie – ek het nou onlangs eers besef die Gys-boeke kom op minstens vyf vlakke met mekaar ooreen.

Omgewingsvlak: Die omgewing speel ʼn onderliggende en tog ʼn betekenisvolle rol in die Gys-boeke.  Daar is die groter Niemandsdorp-omgewing, maar elke boek speel binne ʼn nuwe mikrokosmos binne die groter geheel af. Elkeen van hierdie ruimtes, het sterk ’n invloed op die mense wat daar woon, maar die karakters het ook ’n groot invloed op die omgewing. Daar is dikwels ʼn wisselwerking tussen die ou inwoners en die karakter(s) wat pas daar aankom en dus ʼn vars blik op die bestaande gemeenskappie het.

Karaktervlak: Die verhale is almal karakter-gedrewe. Die intrige behels moorde wat gepleeg word, maar die klem val nie op die gruwelikheid van die moorde nie. Die karakters en die invloed wat die moorde op hulle en hulle verhoudings met mekaar het, is veel belangriker. Die vroulike hoofkarakter kom gewoonlik by ʼn kruispad in haar lewe te staan en die keuses wat sy uitoefen bepaal die verloop van haar lewe en laat haar as mens en vrou groei. En dié groei word weer geaffekteer deur die moorde wat plaasvind en natuurlik ook deur die man wat sy in hierdie omstandighede ontmoet.

Speurvlak: Uiteraard speel die speurproses ʼn belangrike rol, maar dis nie net die speurders wat probeer agterkom wie die moordenaar of moordenaars is nie.  Ander karakters vind byvoorbeeld goed uit wat Gys en Fortuintjie nie weet nie.  Dis egter die leser wat uiteindelik die belangrikste speurder is omdat hy/sy meer weet as elkeen van die karakters. Die speurproses is ook ondergeskik aan wie en wat Gys Niemand, en tot ʼn minderde mate Faantjie Fortuin, is. Veral Gys is meer mens as speurder.

Liefdesvlak: Elke boek het nuwe hoofkarakters terwyl Gys en Fortuintjie sekondêre rolle speel.  Liefdesgevoelens tussen hierdie hoofkarakters ontwikkel ondanks al die drama en trauma. Die stories gaan dan ook in ʼn groot mate oor hoe hierdie groeiende liefdesgevoelens beïnvloed word deur die misdaad, die gevaar waarin een of albei hoofkarakters verkeer en die speurproses. En dan is daar natuurlik Gys en Gertjie wat mekaar al van kindsbeen af liefhet, maar net nie by mekaar kan uitkom nie. Dis hierdie verhaallyn wat eintlik van die boeke ʼn reeks maak en dit word versterk deur Gys se groei as karakter.  Hy sal dus in Dryfhout, die laaste boek, nie dieselfde man wees wat hy in Springgety was nie.

Die meermin-legende: Iets wat ook so half en half per ongeluk gebeur het, is dat daar in elkeen van vyf verhale ’n legende ter sprake kom.  Dis die legende van die visvrou, oftewel meermin, van Kruisbaai. Hierdie meermin-legende maak nie van die Gys-boeke ʼn reeks soos die verhouding tussen Gys en Gertjie nie, maar dit bind hulle tog saam tot ʼn eenheid.

 Ek glo die Gys-boeke kan buite volgorde gelees word sonder groot verlies.  Ek dink egter dat die leser wat by die volgorde hou, ʼn dieper aanklank by Gys en sy Gertjie sal vind. En ek dink ook dat dit lesers se pret sal bederf as hulle die laaste boek in die reeks, Dryfhout – wat ek tans besig is om te skryf – eerste sou lees.

← Terug na nuus

Meer nuus

Lira: Proestukkie3 Mei 2019 LIRA – lokprent18 Apr 2019 Suider-Afrikaanse VVV-bulletin: Jojo Richter5 Mei 2018 Nuusbrief – Maart 201825 Mrt 2018