KKNK op 8 April en ander lekkertes

Twee lekker dinge wat die afgelope tyd gebeur het, is ‘n uitnodiging na die KKNK om saam met Alta Cloete en Kristel Loots op te tree by ‘n damesoggend wat in die tuin van Langenhoven se Arbeidsgenot gehou word en ‘n lekker resensie wat Stephanie Niewoudt oor Meetsnoer op LitNet gedoen het. (Meetsnoer laat jou asem ophou)
Die damesoggend is op 8 April om 10:00 en ons gesels oor die vrouekarakters in ons boeke. Teen R25 kan jy by ons aansluit vir tee en verversings. Besprekings kan by Mariëtte Wienekus gedoen word by [email protected]. Gaan loer gerus na die pragtige Arbeidsgenot waar ons praat by http://www.cjlangenhoven.co.za/arbeidsgenot.php.
Voorwaar ‘n voorreg om in die dampkring van ‘n groot gees soos Langenhoven te kan gesels. Ek verstaan die omslae van die nuwe Daveltjies gaan daar vir ons gewys word!
Nog baie goeie nuus, veral vir die van julle wat sukkel om die boeke in die hande te kry, is dat die eerste drie boeke in die Gys Niemand-reeks ook herduk word, naamlik Springgety, Fortuin en Boheem. Hulle kry splinternuwe omslae en sal saam met Dryfhout van Junie af beskikbaar wees.
En dis ongelukkig al waarvoor ek nou tyd het. Moet Dryfhout se bladproewe afhandel voor ek more Oudshoorn toe gaan. Sodra ek terug is, skryf ek hopelik ‘n bietjie daaroor.