Nuus

Offerlam se Caz Colijn in Doel

20 November 2015

Stap saam met Caz deur Doel, die spookdorp aan die Schelde wat veronderstel was om plek te maak vir ‘n uitbreiding van die hawe.

‘n Paar hardnekkige inwoners het hierdie uitbreidingsplanne tot dusver gefnuik, maar die meeste Doelenaars het bes gegee en onder dwang hulle huise verkoop en teensinnig getrek. Die storie van Doel het my geweldig ontroer en onmiddellik laat dink aan onder meer Skipskop en Distrik 6.

Lees gerus meer oor Doel by http://www.bbc.com/news/magazine-30348086 Die video gee ‘n goeie beeld van wat daar aan die gebeur is.

Vir ‘n Nederlandse teks oor Doel: http://kunst-en-cultuur.infonu.nl/kunst/157057-spookdorp-doel-in-belgie.html

Hier is Caz se indrukke:

IMG_1373

Uit Offerlam:

“Dit lyk eienaardig, die windmeule uit vervloë dae met die twee kernkragsuile daaragter. Twee eras oor mekaar getransponeer.” (p. 183)

Uit Offerlam:

“Haar eerste indruk van die dorp is ’n verwaarloosde speelparkie met houtkontrepsies waarop verweerde strokiesprente van “Suske en Wiske in het verdronken land” pryk. Die lang gras en ’n paar van die stellasietjies wat skuins hang of omgeval het, bevestig wat Tieneke gesê het van ’n spookdorp.” (p. 185)

“’n Kennisgewingbord ’n entjie verder stem klaarblyklik nie saam nie: Doel = bewoond dorp. Respecteer de bewoners! Het is verboden de huizen te betreden of te beschadigen. Overlast en vandalisme zullen worden beboet.” (p. 185)

IMG_1433

“Van daar af gaan Caz behoorlik in ’n dwaal. ’n Distopiese atmosfeer hang tasbaar oor die onbewoonde huise in verskillende stadia van verval. Duidelike tekens van vernielsug is ook sigbaar. Ruite is gebreek, deure hang skeef aan verroeste skarniere, stukkende meubels lê rond.
Feitlik al die mure is met veelkleurige graffitikuns besaai.Baie daarvan is opsigtelik deur ware kunstenaars gedoen – reusagtige uitbeeldings in fyn detail met ’n seker hand geskilder. Spuitverfpogings en die gewone graffiti van vernielersvorm ’n skerp kontras daarmee. Die geheel skep ‘n bisarre effek.” (p. 185)

Uit Offerlam:

“Caz gaan staan voor een groot muur en lees die woordewat netjies daarop geskilder is.

Later, als de vele mooie herinneringen
De plaats van mijn verdriet hebben ingenomen,
Zal ik misschien kunnen verwoorden
Wat ik nu enkel met tranen kan vertellen

Die hartseer vermeng met stil aggressie wat daaruit spreek, ontroer haar.” (p. 185)

IMG_1381

“Van huis tot bont vervalle huis stap sy, die tassie al krassende agterna. Wat op aarde het met hierdie dorp gebeur?” (p.185).

IMG_1419

Uit Offerlam:

“Terwyl sy wag vir die bus na Sint-Niklaas, draai daar aanhoudend ’n deuntjie in haar kop. Eers toe die bus stilhou, kom ’n paar van die woorde na haar terug: Pak op, pak op, sit jou goedjies op jou kop, môre gaan ons weg, ver van hier weg. Skipskop, Skipskop, wanneer hou die dinge op . . .
Die res ontgaan haar, behalwe die eindreël: Sê maar so long, Skipskop, Skipskop, sê goodbye.
Soos die inwoners van Skipskop moes plek maak vir ‘n missieltoetsterrein, moes oor die duisend mense in Doel ook oppak en koebaai sê vir alles wat hulle s’n was, maar nie meer is nie. Die Doelenaars is vergoed ja, maar hulle is steeds teen wil en sin hier weg op bevel van mense sogenaamd in beheer.
Boonop is dit doelloos weggeneem. Vir ’n dok wat nie gebruik word nie, ’n kernkragsentrale wat gesluit gaan word. Is daar ’n meer ironiese naam vir ’n dorp?” (p. 190)

Ek hoop jy het lekker saam met Caz rondgestap!

← Terug na nuus

Meer nuus

Lira: Proestukkie3 Mei 2019 LIRA – lokprent18 Apr 2019 Suider-Afrikaanse VVV-bulletin: Jojo Richter5 Mei 2018 Nuusbrief – Maart 201825 Mrt 2018