Nuus

Oor ‘regte’ boeke

25 Mei 2010

Soms spring daar iets in ʼn storie uit wat meer van mens self verklap as wat mens graag sou wou.  Verstaan my mooi, ek en Lily Reynecke van Springgety het weinig in gemeen – allermins  haar sexy lyf en naeltjie-ring – maar een ding is daar wel.

Lily dink terug aan die dae toe sy met haar eks-man, Fritz, getroud was:

Vir ʼn hele ruk het sy wel aan ʼn leeskring behoort, maar op ʼn dag besluit sy het deur genoeg hoë letterkunde gewroeg en voldoende vertaalde boeke gelees wat min aansluiting by haar eie werklikheid gehad het.  Te veel kere probeer sin maak van dun boekies met kriptiese frases, klaarblyklik met geweldige diep filosofiese onderbou.  Lily het bedank en vir weke lank daarna, het sy haar vergryp aan die whodunits, liefdesromans en ander boeke wat as ongewens afgemaak is deur die orde van intellektuele godinne van suburbia.

Ek het nou nie aan daardie leeskring van haar behoort nie, maar ek het simpatie met haar.

Gesofistikeerde lesers – waaronder akademici wat weet ek het ook ʼn bietjie in Akademia rondgetoer – het my al by meer as een geleentheid gevra waarom ek nie ‘regte’ boeke skryf nie.  Met ‘regte’ boeke lei ek af hulle bedoel literêre boeke.

Begrippe waaraan ek noodwendig dink wanneer dit by die sogenaamde Hoër Letterkunde kom, is:  Wroeging. Skuld, angs, die niksheid van dinge.  Vervreemdheid.  Seks pleks van opregte liefde.  Die nare werklikheid.  Veredeling van sinisme. 

Klaarblyklik is vreugde, lewensblyheid, opregtheid nie in pas met intellektualiteit nie.  Geloof, hoop en liefde ook nie.  Wat ʼn mens natuurlik laat wonder of I Korinthiërs 13 dan nou minder literêre waarde het as Openbaring.

Verstaan my mooi, ek het dit glad nie teen Hoë Letterkunde nie.  Daarsonder sou die mensdom veel armer gewees het. Selfs ek geniet dit om soms ʼn ernstiger boek te lees en ek behoort aan ʼn boekklub waar ons oor ʼn baie wye spektrum heen lees.  

Waarteen ek dit wel het, is dat Hoë Letterkunde aangebied word as die enigste waardevolle soort skryfwerk wat daar is.  Voorgehou word as die maatstaf waaraan alle tekste gemeet moet word.  Dat dit al is wat ‘goed’ is en enigiets wat nie literêr is nie, enigiets wat nie deurweek is van neerslagtigheid en sinisme nie, enigiets wat toeganklik geskryf is, noodwendig ‘swak’ of selfs ‘twak’ is. 

Ek is daarteen dat sinisme en wroeging by implikasie verhef word tot intellektualiteit.  As mens nie sinies na die lewe kan kyk nie, is jou IK noodwendig ietwat gestrem.  As jy nie kan insien dat die lewe boos en aaklig is nie, is jy nie op dieselfde intellektuele vlak nie.  Is jy inderwaarheid ʼn pleb.

Wat ʼn spul snert. 

’n Toeganklike, ‘feel good’ boek, kan net so ’n lewensverrykende ervaring wees as gestroopte, donker boek.   ʼn Toeganklike boek kan goed of swak wees, nes ʼn literêre boek goed of swak kan wees. 

Ursula Le Guin skryf wetenskapfiksie en fantasie, genres wat nie normaalweg as literêre genres beskou word nie en tog was drie van haar werke al finaliste vir die Pullitzer.  Sy het die volgende te sê:

The trouble is that we have a bad habit, encouraged by pedants and sophisticates, of considering happiness as something rather stupid. Only pain is intellectual, only evil interesting.

This is the treason of the artist: a refusal to admit the banality of evil and the terrible boredom of pain.

If you can’t lick ’em, join ’em. If it hurts, repeat it.

But to praise despair is to condemn delight, to embrace violence is to lose hold of everything else.

We have almost lost hold, we can no longer describe a happy man, nor make any celebration of joy.

Ek hou van toeganklike boeke en ek verkies boeke wat my laat beter voel oor die lewe en my medemens.  As dit van my ʼn pleb maak, dan is dit nou maar so.

Daar is heeltemal te min tyd in my lewe oor om boeke wat my beswaard maak te lees, laat staan te skryf en dit net om ‘in’ te wees of om ‘slim’, liefs ‘diep’ voor te kom. 

Dis nie makliker om ʼn toeganklike, ‘feel good’ boek te skryf nie.  Inteendeel.  Dit was nog altyd makliker om mense moedeloos te maak as om hulle op te beur.  Nes dit makliker is om te haat as om te vergewe.  Om neerslagtig te wees, as om lewensbly te wees.  Om nie lief te hê nie as om lief te hê. 

Ek skryf toeganklike, ‘feel good’ boeke omdat ek en my lesers se siele nodig het om asem te skep.

← Terug na nuus

Meer nuus

Lira: Proestukkie3 Mei 2019 LIRA – lokprent18 Apr 2019 Suider-Afrikaanse VVV-bulletin: Jojo Richter5 Mei 2018 Nuusbrief – Maart 201825 Mrt 2018