Nuus

op pad

30 Januarie 2011

Met ʼn bedrywige Januarie feitlik agter die blad, sien ek uit na Februarie.

So op die laaste dag van Januarie, gesels ek môre, dis nou Maandagmiddag die 31e, by die Kleinmond Skryfkring oor genres en genrefiksie en Dinsdag 1 Februarie pak ek weer my goedjies om weg van die huis, die internet en al die verleidinge van Stanford te gaan skryf. Ek sal Maandag 14 Februarie weer terug wees.

Ek het laas week aan my nuwe manuskrip, die eerste van ʼn beoogde kwartet, begin skryf en wil lekker in die storie en die reeks inkom gedurende hierdie amper twee weke. Dis die eerste keer dat ek willens en wetens ʼn reeks aanpak. Die Daveltjies en die Gys-boeke het toevallig reekse geword, maar dié keer wil ek dit behoorlik probeer doen.

My nuwe manuskrip is nog titelloos en ek is nog baie onseker oor waarheen die muse my gaan lei. Al wat ek tot dusver weet, is dat die vier vroue waaroor die kwartet gaan, my sekerlik nog grys hare gaan (by)gee. Hulle is ʼn uiteenlopende klompie en elkeen het ʼn hele paar geite. Lyk nie vir my of daar moorde gepleeg gaan word nie.

Ek sal kom rapporteer hoe dit gegaan het en hopelik weer foto’s van my wegkruipplek vir julle kom wys. Dié keer vaar ek die berge in en gaan na ʼn plek naby die dorpie met die wonderlike naam van Baardskeerdersbos.

Voorlopig dus, adios!

← Terug na nuus

Meer nuus

Lira: Proestukkie3 Mei 2019 LIRA – lokprent18 Apr 2019 Suider-Afrikaanse VVV-bulletin: Jojo Richter5 Mei 2018 Nuusbrief – Maart 201825 Mrt 2018