Nuus

Opvangslag

4 Mei 2013

SkryfhuisieTot dusver het ek my blog hierdie jaar liederlik afgeskeep. Ek vang hiermee bietjie op en plaas nuwe nuus, foto’s asook uittreksels uit my nuusbriewe vir dié van julle wat nie daarop ingeteken is nie.

Die jaar het teen ʼn spoed uit die wegspringblok geskiet. Dit het baie goëltoertjies geverg om ʼn manuskrip af te handel en boonop my skryfhuisie naby die suidste punt klaar gebou te kry. Albei is egter nou byna in kanne en kruike.
Daar was vele vreugdes tussen die bouery en skrywery deur.

Onlangs

Kwêla:
Jy kon my met ʼn veer omtik toe ek hoor Kwêla wil ʼn profielprogram oor my en my boeke hier op Stanford kom opneem.
Dit het gelei tot ʼn skoonmakery van formaat en die adrenalien het behoorlik gepomp in die dae voor die span hier aangekom het.
En toe is dit boonop eendeweer en die huis is dalk skonerig, maar steeds piepklein.
Gelukkig het die reën ons so tussendeur kans gegee nie net om buite opnames te maak nie, maar ook om op Blom se boot, die River Rat, te gaan vaar sodat die span die rivier kon beleef.

Ek en Susan Booyens

2013-05-03 04.26.59
Wat ʼn wonderlike span! Aanvanklik was ek natuurlik redelik senuweeagtig, maar toe ek my weer kom kry, gesels ek en Susan Booyens een strook deur of die kamera op ons gerig is of nie. Riaan Badenhorst, die regisseur, was so gemaklik dat ek skaars agtergekom het daar is ʼn program wat opgeneem word. En Johan, die kameraman, was so stil en rustig ek was skaars bewus daarvan wanneer die kamera op ons gerig is.
Om die waarheid te sê is ek halfbenoud ek het dalk te veel uitgeblaker vir dié soort program omdat dit werklik gevoel het soos vriende wat kom kuier het!

220px-Poiuyt.svg

Oor Siende Blind:
Ek het pas die bladproewe van my blivetse storie ontvang en einde Mei gaan die manuskrip drukkers toe om ʼn boek te word. Die verskyningsdatum is Julie.
Ek behoort redelik binnekort ʼn skelm loer na die omslag te kan gee. Dis nog nie heeltemal gefinaliseer nie, maar ek het al ʼn goeie idee van hoe dit gaan lyk. Heel anders as die ander en in my subjektiewe opinie, baie mooi.
Oor die titel:
Ek het voorheen hier op die blog en elders genoem dat my manuskrip Duiwelsvurk sou heet. Toe kom daar ʼn boek uit met die naam Duiwelsklip wat my laat wonder het. My uitgewer het gereken dit sal nie regtig saak maak nie.
En daar sien ek toe nog ʼn boek wat baie onlangs gepubliseer is. Die titel? Duiwelsasem.
Wel, dit het my asem weggeslaan, dank jou die duiwel 😉
Dié ontdekking het ek gemaak terwyl ek nog geskryf het aan die eerste draft. Toe ek weer deur die manuskrip gaan voor ek begin met die afronding, was die titel-kwessie die heeltyd in my agterkop.
En ewe skielik besef ek, maar Duiwelsvurk is eintlik nie die beste titel vir my storie nie. Die titel is eintlik te kras vir die verhaal. Die spanning in my storie speel op ʼn subtiele vlak af. Dis nie hardebaard spanning nie. En daar kom die nuwe titel by my op en ek weet sommer dis pas net soveel beter by my storie.
Gelukkig het my uitgewer met my saamgestem en my boek heet nou Siende blind.

Vroeër vanjaar
Woordfees:
Ek en Francois Bloemhof

Artikel Burger - fotTussen al die druk en angstigheid deur, was die Woordfees soos ʼn lafenis, al was dit nie ontdaan van spanning nie.
My somergriep was gelukkig in sy doodsnikke en ek kon al waag om sonder ʼn hele pak Softique onder die arm rond te loop. Tog pla die skoenlappers maar altyd.
In die geval waar jou eie boek bespreek word, wonder mens maar altyd of daar genoeg lesers gaan opdaag om te luister. Mens is bang jy gaan vashaak by ʼn vraag en kan nie verder nie. Of dat jy ʼn dom antwoord sal gee.
In die geval waar jy moet fasiliteer soos ek vir Deon Meyer gedoen het, is mens nou weer bang jy vra dom vrae. Of jy het te min vrae of te veel. Of jy vra die verkeerde vrae.
Alles het egter baie goed afgeloop.

Ek en Francois Bloemhof het heerlik oor Labirint gesels. Daar was genoeg mense wat die praatjie bygewoon het en hulle het baie lekker gereageer. Dankie aan almal wat daar was!
Knorhoek Towerbosch

knorhoek-wine-estate-1347810902

Die middagete by Knorhoek se Towerbosch restaurant was ʼn heerlike, stampvol geleentheid. Die pragtige ou wynplaas het ʼn wonderlike ambience en die restaurant is iets uit ʼn sprokie. Die smaaklike kos en lekker wyn was die kersie op die koek.
Deon Meyer was sy sjarmante self en ons het heerlik gesels oor sy internasionale roem. Wat my opgeval het, is sy beskeidenheid. Nie van die valse soort nie. Ek kon agterkom hy is werklik self ʼn bietjie oorweldig deur sy buitengewone sukses.

Lekkerlit prysoorhandiging

Lekkerlit boek van die Jaar 2012
Soos meeste van julle weet, het my wonderlike lesers – ja, julle! – Jo & Sue, die eerste boek in die Maanschijnbaai-tweeluik, aangewys as Lapa se Lekkerlit Boek van die Jaar vir 2012.

So tussen die skrywery deur is ek toe in Maart saam met Izak de Vries, wat betrokke is by die bemarkingsafdeling, Pretoria toe vir ʼn baie blitsige besoek. Ons het die Dinsdagmiddag geland, saam met Leon van Nierop en Charlene Hougaard van Lapa ʼn heerlike middagete genuttig en die aand was die funksie. Daar het ons weer eens heerlike ete en drinke gekry, geluister na Leon van Nierop wat oor sy nuutste projek gepraat het en ek het sooo lekker gesels met al die interessante mense wat daar was. Die volgende oggend was dit weer terug Kaap toe.

Dit was ʼn groot voorreg om die prys te ontvang. Die prys beteken vir my geweldig baie, juis omdat die lesers die beoordelaars was. Dis hoogtyd dat julle ook ʼn stem kry!
Lees meer by http://lapa.bookslive.co.za/blog/2013/03/28/lekkerlit-prys-by-lapa-se-luisterryke-mediafunksie-aan-chanette-paul-toegeken/
Goeie nuus: Die lekkerlitkompetisie vir 2013 is onlangs aangekondig. Gaan loer by http://www.lapa.co.za/lekkerlit om in te skryf.

RSG:

skrywersenboekeNog iets wat tussen al die skrywery deur gebeur het, is ʼn gesprek met Christelle van Tonder van RSG oor die Maanschijnbaai-tweeluik en die res van my boeke. Sy het geweier om vooraf vir my te sê watter vrae sy gaan vra omdat sy ʼn spontane gesprek wou hê. Ek was maar benouderig, maar dit het goed gewerk en ons het inderdaad heerlik gesels.

Daar is ‘n potgooi van die gesprek beskikbaar op RSG se webwerf as julle dalk wil luister. Die skakel is http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp. Kies “Skrywers en Boeke” as program en 20 Maart as datum. My gesprek met Christelle begin by 18:44 op die tydlyn, maar die ander gesprekke is baie interessant. Luister gerus.

Ek dink dis omtrent die omvang van die belangrikste dinge wat tot dusver gebeur het. En ek hoop ek kry dit reg om van nou af ʼn bietjie meer op datum te bly. Maar ek belowe niks!

As jy op my nuusbrief wil inteken, stuur ʼn e-pos aan [email protected] en tik net in die “subject” venstertjie: Nuusbrief asb., dan voeg ek jou by my adreslys tot jy laat weet jy wil afgehaal word.
Fluit-fluit, my laaaang storie is uit.

← Terug na nuus

Meer nuus

Lira: Proestukkie3 Mei 2019 LIRA – lokprent18 Apr 2019 Suider-Afrikaanse VVV-bulletin: Jojo Richter5 Mei 2018 Nuusbrief – Maart 201825 Mrt 2018