Sjoe!

Praat van met ʼn vaart wegtrek. Dis nou hierdie 2011 van ons. Ek dink nog ek is reg om rustig aan die gang te kom en toe ek weer my oë uitvee, is dit drie weke later.
Dis egter verstommend wat mens in drie weke kan uitrig as jy moet.
Myne het so gelyk:
Week 1 Maandag: Begin op harde kopie vir oulaas deur Dryfhout gaan, redigeer. Dinsdag: Redigeer verder aan Dryfhout. Uitgewer bel my en soek ʼn konsep vir die omslae van die Davel-reeks asook ʼn foto van hoe ek Tamara voor my sien. Kyk na honderde der honderde omslae van boeke in min of meer dieselfde genre, stuur ʼn paar aan, maar die wat vir my mooi is, is nie uitvoerbaar nie. Skarrel deur derduisende foto’s op Stock-webwerwe en vind feitlik net ge-photoshopde popgesiggies met botox-lippe, vals wimpers en die allerverskriklikste aanwending van eye-shadow. Kry darem een wat daaaaalk kan werk. Woensdag: Ek gaan vir oulaas deur die geredigeerde manuskrip van Tamara se Track Changes en druk die send-knoppie. Uitgewer bel. Soek ʼn one-liner (die sinnetjie op die omslag) vir Dryfhout. Sukkel amper langer daarmee as wat dit my vat om ʼn hoofstuk te skryf. Moet ook ʼn one-liner vir Tamara kry. Ditto. Redigeer verder aan Dryfhout. Donderdag: Maak klaar met harde kopie redigering van Dryfhout en begin veranderinge op rekenaar aanbring en maak seker ek het sover moontlik alles wat in die keurverslag staan, aangespreek. Groet Gys vir oulaas, pink die trane weg en druk send-knoppie. Uitgewer sê dankie en soek konsep-voorstelle vir omslag van Dryfhout. Res van die dag op die Web. Vrydag: Finaliseer Dryfhout se outeursnota en bronnelys. Finaliseer die ‘Liewe leser’ brief vir Tamara. Finaliseer die geslagsregister wat in Tamara en die res van die reeks moet kom. Swerf op die Web agter omslae aan. Saterdag: Begin aan die eerste manuskrip van sewe lees waarvoor ek ontwikkelingsverslae moet skryf. Sondag: Lees manuskrip klaar en maak notas vir verslag.
Week 2 Maandag: Lees manuskrip 2 Dateer boekelys vir boekklub op. Gaan boekklub toe en probeer my oë oophou. Dinsdag: Lees manuskrip 3 en begin nommer 4. Woensdag: Lees manuskrip 4 klaar en skryf verslae vir no 3. Donderdag: Skryf verslag 4 en lees manuskrip 5. Vrydag: Lees manuskrip 5 klaar en begin met 6. Saterdag: Lees manuskrip 6 klaar en begin met 7 Sondag: Lees nommer 7 klaar
Week 3 Maandag: Skryf verslag vir nommer 7 Kort-kort op die foon met uitgewer oor omslae en dinge. Dinsdag: Skryf verslae 5 & 6 Woensdag: Gaan weer deur al die verslae, skryf faktuur en – suuuuug – stuur. Begin redigeer aan Isabelle (Daveltjie no 5). Donderdag: Redigeer Isabelle. Vrydag: Isabelle klaar, begin met redigering van Maryn (Daveltjie no. 6) Saterdag: Maak Maryn klaar. Begin met redigering van Fleur (Daveltjie no. 7) Sondag: Maak Fleur klaar Gaan deur Track Changes van Annabella (Daveltjie no. 3) Soek foto op Stock-webwerf vir Annabella.
!!!Besef skielik ek het nog nie die jaar ge-blog nie. En hier is hy nou. Die eerste regte pos van die jaar – jammer dis bietjie laat.
Hoop die jaar het vir jou goed begin en gaan net al lekkerder word. Ek sien daarna uit om die Daveltjies se manuskripte môre (dis nou Maandag van week 4) sover moontlik te finaliseer vir hulle herdrukke en teen Dinsdag of Woensdag aan ʼn nuwe boek te begin skryf. Kan nie WAG nie!