So ʼn blivetse storie!

Navorsing is ʼn wonderlike ding. Ek dink ek het meer geleer uit navorsing wat ek vir my boeke doen as in die elf jaar wat ek aan universiteite gestudeer het.
Op universiteit leer mens baie oor ʼn bietjie. In my navorsing leer ek bietjie, of net genoeg, oor baie.
My nuwe manuskrip se werkstitel is Duiwelsvurk. Ek het dit gekies voor ek besef het daar het pas ʼn boek uitgekom met die titel Duiwelsklip. Ek en my uitgewer sal maar moet koppe bymekaar sit en besluit of daar moontlik verwarring sal wees as ek hou by Duiwelsvurk. Ek hoop egter ek kan, want daar was selde ʼn meer gepaste titel vir ʼn storie wat ek nou nog probeer ontsyfer.
Dit het ek besef toe ek begin navorsing doen het oor duiwelsvurke en by die blivet uitgekom het.
Volgens Wikipedia:
A blivet, also known as a poiuyt, devil’s fork or widget, is an undecipherable figure, an optical illusion and an impossible object. It appears to have three cylindrical prongs at one end which then mysteriously transform into two rectangular prongs at the other end.
Dis hoe ʼn paar voorbeelde lyk:

Maar daar is natuurlik slim mense wat hierdie konsep verder neem soos hieronder.

Aanvanklik was die konsep van die blivet vir my bloot interessant. Hoe verder egter aan die storie skryf, hoe meer kom ek agter dat hierdie storie soos die blivet is. Net as ek dink ek weet nou waarheen iets gaan lei, of nou het ek ʼn prentjie van wat vorentoe gaan gebeur, of nou verstaan ek my storie, gebeur daar iets anders en sit ek met die gevoel dat ek na ʼn optiese illusie kyk.
Cara, my hoofkarakter, sit met dieselfde probleem. Sy dink kort-kort sy weet nou waar haar probleme vandaan kom en net mooi as sy dink sy het die een deel van haar probleem opgelos, vervorm die prentjie weer en sien sy ʼn ander beeld van dieselfde ding.
Tussen die twee van ons gaan ons hierdie blivetse storie moet uitwerk. Dis hoekom ek môre, 15 Januarie, weer vir amper drie weke suidste punt toe gaan – om te sien of ons kan agterkom hoeveel tande die duiwelsvurk het, asook wat eg is en wat bloot illusie. En dan moet ons natuurlik uitvind wie die blivetse mens is wat agter die duiwelsvurk sit.
Ek hoop dis ʼn heerlike jaar vir julle almal!