Nuus

Storie gesoek, meermin betrap

19 Oktober 2010

Êrens op ʼn rots sit ʼn meermin wat moeg geraak het vir wit pêrels. Toe kom sy agter tyd is blou. Van toe af steel sy elke uur op die uur 1 sekonde en bêre dit in ʼn perlemoenskulp. Elke 150 dae haal sy ʼn helderblou uur-pêrel uit sy skulp. Elke twee jaar oes sy dus  vyf uur-pêrels. Hierdie pêrels snoer sy en dra dit om haar nek en in haar hare. Sy het stringe en stringe daarvan.

En dis hoekom ons dink tyd gaan vinniger verby as in die ou dae. Dis nie so nie, daar is net jaarliks minder sekondes in ʼn uur en dis die tyd-raper van ʼn meermin se skuld. As Einstein langer geleef en hom meer aan meerminne gesteur het, sou hy haar uitgevang het.

Dis dus haar skuld (en Einstein sʼn) dat ek nou eers weer by die blog uitkom. In ʼn mindere mate het dit dalk daarmee te doen dat ek redelik baie opvangwerk gehad het nadat ek teruggekom het van die twee weke waarin ek my storie wat weggeraak het, gaan soek het. 😉

So ʼn storie wat begin kwyn, is ʼn ontwykende ding. Dis daar, maar weggesteek agter seesproei en misslierte, soms is dit net ʼn maanligstraal se flirtasie met ʼn nat rots.

In die huisie nie te ver van die suidste punt van Afrika af nie, sit ek en fynkam wat reeds geskryf is om te probeer agterkom wat nog geskryf wil word. ʼn Paar keer moet ek terugstap op spore, verdwaal soms, ander kere vind ek nuwe roetes, maar na die voel-voel aan die begin, begin my karakters teruggekeer en kry die storie opnuut ‘n momentum van sy eie.

En toe ek weer my oë uitvee, die Donderdag voor ek die Sondag sou terugkom, besef ek die storie, die eerste draft in elk geval, is uitgeskryf. Die aanvanklike blinkigheid van die maanligstraal op ʼn flertsie seeskuim, het die oog na die naglug toe gelei, na die amper volmaan verstrik tussen sterresnoere. Dis nie klaar nie, maar dis daar – die ruwe skulp om die pêrel.

Die harde werk begin nou om by die pêrel uit te kom. En die nuwe vertwyfelinge ontwaak. Werk daardie deel? Is hierdie toneel geloofwaardig? Sal Aengel regtig so optree? Het ek my datums reg? Was Bredasdorp ʼn dorp in 1815 (nee, dit was nie – snippermandjie toe met ʼn paragraaf of twee). Ensovoorts en dies meer.

Ek hoop om die manuskrip binne die volgende maand of so afgerond en gereed te hê vir die keurders. Dan kom die wag en die volgende stel vrese. Gaan die keurders daarvan hou? Wat gaan hulle raaksien wat ek misgekyk het? Gaan hulle dalk iets miskyk wat die leser gaan raaksien? Sê nou. . . Daar is honderde sê nou’s.

Maar op die oomblik sien ek uit om van Maandag af in alle erns die voor-finale storie met my beiteltjie uit die klip te probeer kry.

Dryfhout het baie vreugdes gebring. Daar was die besoek aan die Strandveld Museum in Franskraal en die wonderlike S.D. Fourie wat ʼn hele uur aan my afgestaan het om my te vertel van die skatte wat in die huisie waar die hoofman van die Dyer-eiland gwano-rapers destyds oorgebly het, versamel is.

Die twee besoeke aan die Skeepswrak Museum in Bredasdorp was ʼn tog die verlede en onder water in, na ʼn wêreld waar die stormsee verwoesting saai en sporadies uitspoeg wat hy ingesluk het.

Daar was die verblyf in die kliphuisie langs die Breede rivier waar lemoengeure draal. Die twee weke op ʼn verlate kusdorpie waar die Khoikhoi se visvywers nog uitgepak lê na hoeveel eeue. ʼn Vroegoggend wandeling langs die klipbesaaide kus onder swaar wolke toe die wind gaan lê en die waters plat geraak het. Gesprekke met interessante mense. Nagvoëlgeluide wat ek nou nog nie kon identifiseer nie. . .

Elke boek is vir die skrywer spesiaal. Elkeen dra sy eie herinneringe met hom saam. Dis asof daar ʼn waas van geheuebeelde daaraan kleef, asof dit sy eie geur en kleur en reuk het. Dryfhout is my seemis en seeskat boek.

Wanneer die manuskrip oor ʼn maand of wat keurders toe gaan, begin ek skeppingsregte afstaan. Dan volg ek raad van buite en skaaf en poets vir die uitgewers. As die uitgewer tevrede is, het ek nie meer aanspraak nie en word dit uiteindelik julle sʼn.

Maar op die oomblik is dit nog net myne en koester ek die besitterskap jaloers, dwaal ek nog in die misterie daarvan rond. Ek groet Gys vir oulaas en neem swaar afskeid, maar iets aan hierdie vyf boeke sal altyd baie spesiaal vir my bly. Dit voel soms asof ek nou eers regtig ʼn skrywer geword het.

Strandveld museum

← Terug na nuus

Meer nuus

Lira: Proestukkie3 Mei 2019 LIRA – lokprent18 Apr 2019 Suider-Afrikaanse VVV-bulletin: Jojo Richter5 Mei 2018 Nuusbrief – Maart 201825 Mrt 2018