Van liefde na moord
Lesers vra dikwels waarom ek oorgeslaan het van romanses na spanningsverhale. Party van my aanhangers mis my romanses, ander is weer bly ek het die spanningsgenre aangedurf. Sommige lesers laat weet hulle is nie romanse-lesers nie, maar geniet die Gys-boeke terdeë. Ek gee ‘n bietjie agtergrond, ook oor die soort spanningsroman wat ek nou skryf en hoe dit verskil van ander misdaadfiksie. Ek hoor graag wat jy dink.
Voor ek met die Gys-boeke begin het, het ek bekend geword as romanse-skrywer en is opgesaal met die etiket van Hygromanskrywer. Dis ʼn term waaraan romanseskrywers in die algemeen, en ek spesifiek, ʼn kleintjie dood het. Hierdie renons gaan nie net oor die neerhalende aard van die term nie, maar ook benoem dit nie wat ons skryf nie. Dit sou moontlik ʼn uitstekende benaming gewees het vir erotiese fiksie, maar die romanse het net mooi niks met erotika uit te waai nie. Die romanse gaan oor romantiese liefde en die emosionele belewing daarvan, hoegenaamd nie oor seks of ʼn gehyg nie.
Benewens romanses, het my skryfpaadjie vanuit die staanspoor egter ook ʼn paar draaie deur ander genres geloop terwyl ek my skryfvlerkies getoets het. Daar was Vlerkaf (1998) en Leila word lig (2005) wat niks met romanse uit te waai gehad het nie en onder die vaandel vrouefiksie of middelmoot literatuur geklassifiseer kan word. Dan was daar ook Wip van die droomvanger wat ʼn soort voorloper was vir my Gys-boeke, maar eerder ʼn sielkundige roman is wat ʼn goeie klap van die esoteriese weg het. Elkeen van hierdie boeke het my nader gebring aan wat ek so graag wou skryf, naamlik suspense romans.
Ek gebruik die Engelse woord suspense omdat dit ʼn baie spesifieke soort spanningsverhaal is waarvoor daar nog nie ʼn lekker beskrywende woord in Afrikaans is nie. Spanningsroman is te algemeen en sluit omtrent enige soort boek in waarin daar ʼn misdaad gepleeg word, en raaiselroman rook vir my ook nie heeltemal die pyp nie.
Die suspense roman verskil in heelwat opsigte van speur- en ander misdaadromans. Dit leen by sowel misdaadfiksie as liefdesromans en versmelt tot iets wat onder albei genres kan ressorteer. Internasionaal is dit ʼn baie gewilde genre, maar in Afrikaans blyk dit ʼn nuutjie te wees.
Die grootste verskille:
- Die speurverhaal wentel tipies om ʼn professionele speurpersoon wat in beheer is van die misdaadondersoek en op intellektuele vlak, gepaardgaande met baie aksie en dikwels geweld, ʼn misdaad oplos. Daarenteen is die hoofkarakter(s) in die suspense roman nie professionele speurpersone nie. Die hoofkarakter is gewoonlik ʼn vrou wat onverhoeds in ʼn situasie beland waar sy deur ʼn moord of ander misdaad geraak word en ook self later in gevaar verkeer. Sy moet dan agterkom wie die misdaad gepleeg het, maar is nie vir die taak toegerus nie.
- Die suspense roman is karaktergedrewe eerder as aksie-gedrewe en die bevrediging van die leser lê hoofsaaklik op emosionele vlak. Daar is baie intrige, maar nie noodwendig aksiebelaaide jaagtogte of eksplisiete geweld nie. My speurder, Gys Niemand, word dan ook meer as mens uitgebeeld, eerder as speurder en is ʼn sekondêre karakter in elkeen van die boeke.
- Die suspense roman sluit gewoonlik romantiese liefde in terwyl die speurroman gewoonlik nie oor die liefde gaan nie, al kan dit sekstonele bevat. Die romantiese verhouding in die suspense roman gaan egter veel dieper as wat die geval in ʼn romanse is. Dis baie meer verwikkeld en spreek die werklikheid baie sterker aan alhoewel dit steeds ʼn feel good boek bly.
- Ek dink dit was Trisa Hugo van Boekemakranka wat begin praat het van estrogeen- pleks van testosteroon-gedrewe boeke.
Omdat ek ʼn bietjie van ʼn idealis, ʼn bangbroek en ʼn sissie is, en regtig nie van bloed hou nie, wou ek nie bloeddorstige gruwelstories skryf nie. En tog fassineer moorde en moordenaars my al vandat ek kan onthou. Vir my is die redes agter die moord, die psigologiese agtergrond, die gevolge daarvan en die effek op die mense wat geraak word deur die misdaad, baie boeiender as die daad self. Gevolglik is my stories relatief bloedloos.
In my Gys-boeke boeke is daar moorde, daar is speurders en die moorde word opgelos, maar die boeke gaan oor veel meer as die misdade of oor wie die moordenaar is. Dit gaan veral oor die invloed wat die misdaad op die sekondêre slagoffers het. Dit gaan ook by uitstek oor ʼn romantiese verhouding wat ontstaan tussen die hoofkarakters en hoe die verhouding beïnvloed word deur die misdaad en die speurproses. Agterdog speel ʼn groot rol, maar ook gevaarsituasies en albei skep natuurlik ʼn prutpot van emosies wat dreig om oor te kook.
Die Gys-boeke is meer op die vroueleser gemik, maar ek het gou agtergekom dat mans ook die boeke geniet. Een manlike leser het laat weet hy het onherroeplik verlief geraak op Lily Reynecke, die hoofkarakter in Springgety, ander geniet weer vir veral vir Gys.
Ek hoor graag wat jy dink.