Van voor af

Mens sou dink ʼn skrywer raak mettertyd gewoond daaraan dat nuwe boek op pad is. Moenie glo nie.
Maanschijnbaai: Jo & Sue is my vyf en dertigste boek en glo my ek is nog net so opgewonde soos ek was toe my heel eerste een verskyn het. Ek kan nie wag om dit in my hande te hou en teen my hart vas te druk nie. Die opwinding het miskien net nou ʼn ander nuanse.
Om jou eerste boek vas te hou, is ʼn ongelooflike ervaring. In meer as een sin van die woord. Dis sestien jaar gelede, maar ek onthou nou nog ek kon letterlik nie glo dat iemand my storie uitgegee het of dat iemand dit regtig gaan lees nie. Ek kon nie glo my storie is regtig in boekvorm nie. Met ʼn omslag waarop my naam pryk nie.
Met die jare het die soort verwondering nie werklik getaan nie. Ek verwonder my steeds daaraan dat ek toe uiteindelik regtig ʼn skrywer geword het. Dat mense my boeke koop en lees. Daar is egter ook ʼn diep dankbare wete dat dit so is. Mense wil regtig lees wat ek skryf. Ek mag op ʼn vorm by beroep invul: skrywer.
Twintig jaar gelede sou ek (verwese) gelag het as iemand vir my gesê het ek gaan ʼn gepubliseerde skrywer word. Nou is dit so.
Met my eerste boek het ek egter nie dieselfde bekommernisse gehad as nou nie. Ek het heeltemal te min geweet – nie eens dat daar strikke is waarin skrywers kan trap nie, laat staan wat hulle is.
Hoe meer boeke mens skryf, hoe meer jy met skrywers en lesers in aanraking kom, hoe meer besef mens wat jou verantwoordelikheid teenoor die leser is. Ook dat mens ʼn verantwoordelikheid teenoor jouself en jou kreatiewe talente het. En soms bots die twee.
Al wat ek wou hê toe ek begin skryf het, was dat mense my boeke soveel sal geniet soos ek Ena Murray, Sarah du Pisanie, Rika du Plessis en die magdom ander wonderlike romanseskrywers se boeke deur die jare geniet het.
Nou sit ek egter met ʼn geskiedenis.
Eers was daar die romanses. Ek het ʼn lesersaanhang opgebou en my lesers het presies geweet wat om te verwag wanneer hulle ʼn Chanette Paul-boek optel.
ʼn Ander storie het egter in my kop gebroei. Daaruit is Vlerkaf gebore. ʼn Heel ander soort boek. Heelwat ernstiger. Geen vir-ewig-en-altyd-gelukkig einde nie. Die boek het nie besonder goed gevaar nie. Resensente het telkens daarna verwys dat ek eintlik ʼn romanse-skrywer is. Lesers wat gewoond was aan my romanses het waarskynlik nie geweet wat om daarvan te maak nie. Baie was moontlik teleurgesteld.
Ek is weer terug na romanses toe. Tot ek besluit het ek wil bitter graag ʼn spanningsroman skryf. Wip van die droomvanger was die resultaat. Dit was die naaswenner van die ATKV-Prosaprys. Daar het nie ʼn enkele resensie oor verskyn nie. Lesers was teleurgesteld met die einde.
Weer is ek terug romanses toe.
En toe word die Human en Rousseau-beurs in 2000 vir 2001 aan my toegeken om my Meestersgraad in Skeppende Skryfwerk onder leiding van prof. Etienne van Heerden te doen. Vir meer as twee jaar lank skryf ek aan hierdie boek terwyl ek steeds romanses ook doen om die pot aan die kook te hou. Vir meer as ʼn jaar nadat ek graad gekry het, herskryf ek tot my uitgewers tevrede is.
Leila word lig verskyn vroeg in 2005 en is weer eens ʼn finalis vir die ATKV-Prosaprys. Die boek vaar nie goed nie. Dit verkoop minder as 3 000 eksemplare. Resensente is ambivalent daaroor. Een reken die boek is te lig in die broek, ander hou daarvan, maar gaan nou nie juis uitbundig tekere daaroor nie.
Terug romanses toe.
Later in 2005 vra Lapa my of hulle my historiese romanse Bittersoet Wals kan herdruk en ook om vir hulle ʼn opvolg te skryf. Ek maak so en raak nuuskierig oor die res van die Davelvroue. Dit word ʼn reeks van sewe. Die Daveltjies word gebore uit die sak en as waarin Leila word lig my gelaat het. Ek skryf hulle binne ʼn jaar en omdat alles so vinnig gaan, besluit ons om die titels net by name te hou.
Een na die ander verskyn hulle. Hulle vaar nie goed nie. Mense is nie mal oor historiese romanses nie, kom ons agter.
Basta besluit ek. Ek wou nog altyd spanningsromans geskryf het en nou gaan ek. Ek het egter my les met Wip van die droomvanger geleer en meng die keer meer romanse in die spanningsdeeg in. Ek skryf Springgety en sukkel my morsdood om aan die genre gewoond te raak. Die boek verkoop, maar dit verkoop stadig.
Gys Niemand kry sy vashou op my en ek skryf Fortuin. Die boek verkoop, maar stadig.
Boheem is ʼn finalis in die spanningsafdeling van die Woordveertjies en verkoop aansienlik beter.
Meetsnoer verkoop weer stadiger.
Maar skielik kom lesers agter wat ek besig is om met die reeks aan te vang. Wanneer kom Gys en Gertjie bymekaar? word ek aanhoudend gevra. Hoeveel boeke kom daar nog?
Intussen kry ek al hoe meer navraag na die Daveltjies. Ek verwys die navrae na my uitgewers. ʼn Rukkie voor ek klaar is met Dryfhout, hoor ek die Daveltjies gaan in nuwe formaat herdruk word.
Dryfhout, die laaste van die Gys-boeke, verskyn in Junie 2011. Die eerste oplaag verkoop binne weke uit. Die eerste vier Gyse is ook skielik uitverkoop. Inderhaas kry ons nuwe omslae reg en die hele reeks word herdruk.
In Junie 2011 verskyn Tamara in haar nuwe tabberdjie. Daarna kom daar elke maand ʼn vars Daveltjie op die rak. Teen die einde van 2011 boer hulle op die topverkoperlyste.
Tans doen die Daveltjies steeds goed. Die Gyse het so ʼn bietjie afgeplat.
Die lesers vra wat kom nou. Ek sê die Maanschijnbaai-tweeluik en hou my hart vas.
Want sien dis alweer iets heeltemal anders as die Gyse, die Daveltjies of enige van my ander boeke.
Nou wag ek met groot opwinding in my hart om die eerste van die twee in my hande vas te hou. Maar daardie hande bewe. Gaan ek lesers teleurstel? Of gaan hulle die tweeluik ook aangryp soos die res – al het dit so lank geneem?
Net die tyd sal leer.
