Veertjies 2010


Ek en Blom by die Veertjies. Foto beskikbaar gestel deur die ATKV.
En so het die Veertjie-geleentheid, soos alle goeie dinge, gekom en gegaan. Baie dankie vir al julle boodskappe, duime wat vasgehou is en ondersteuning. Ek het darem uit die staanspoor besef Boheem se kanse is baie skraal om te wen, veral omdat romantiese liefde nie in Afrikaans eie is aan spanningsromans nie. Ek het dan ook nie met die louere weggestap nie, dit was Chris Karsten se voorreg, maar dit was nietemin ʼn eer om finalis te wees en ʼn belewenis om lank te onthou.
Die geleentheid self was die toppunt van glamour. Soveel Baie Belangrike Persone in die boekwêreld, het ek lanklaas bymekaar gesien! En almal uitgevat in die spoggerigste vere.

Molenvliet
Die funksie is op Molenvliet gehou – ʼn allerpragtige wynplaas net buite Stellenbosch en boonop het die Bolandse weer wonderlik saamgespeel.
Dit was heerlik om met bekendes te gesels en ook om nuwe mense te ontmoet. Lekkerste was om, onder meer, vir Karin Brynard, Kristel Loots, Elsa Winkler en Jaco Jacobs daar te sien. Dis mense met wie ek al lekker paaie gestap het in my skryfloopbaan en dis al of die finaliste die jaar so gekies was dat daar van my spesiale mense daar was.

Elsa Winkler ontvang haar Veertjie van Elize Parker vir die beste romanse. Baie geluk, Elsa! Foto: Naomi Bruwer van LitNet
Baie geluk aan al die wenners, maar ook aan die finaliste. En ʼn groot pluimpie vir die ATKV en Sanlam wat nie net die enigste pryse daarstel vir ontspanningsfiksie nie, maar boonop in verskillende kategorieë – soos dit hoort. Dit spoor ons as skrywers aan om ons heel beste te lewer in die genre van ons keuse. Dit dui ook daarop dat daar ten minste in een geledere begrip is daarvoor dat ontspanningsfiksie, en die genres wat daaronder val, ʼn regmatige plek op die podium verdien.
Ek hoop ander borge sien dit raak en besef ook dat die voortbestaan van Afrikaans juis in ontspanningsfiksie geleë is omdat dit die boeke is wat die meeste en die graagste gelees word. Hoe meer goeie ontspanningsfiksie geskryf word, hoe meer sal dit gelees word, hoe meer goeie Afrikaans sal gepraat word, hoe meer en langer sal ons op Afrikaans kan trots wees.
Maar as ek kon Veertjies uitdeel, sou dit aan die lesers gaan. ‘n Veertjie vir elke leser wat swaarverdiende geld uithaal en ons boeke koop. Wat kosbare ure afknyp om ons boeke te lees, Afrikaans te lees. Sonder julle, sou hierdie opbloei juis hier in Afrikaans se skemer dae, nie moontlik gewees het nie. Julle is die lig in wat duisternis kon gewees het.