Weer weg en Vrouedag-lekkertes
Dit voel vir my ek is pas terug en nou is ek alweer op pad. Die keer vir twee weke. En ek gaan net betyds terug wees voor al die Vrouedag-lekkertes begin.
Maandag vat my clapped out bakkie die pad na die oewer van die Breederivier toe, na ʼn kliphuisie wat ek gehuur het om verder aan Dryfhout te gaan skryf. Dit klink baie eienaardig dat mens van ʼn rustige klein dorpie soos Stanford moet vlug om te gaan skryf, maar dis hoe dit is.
Met ʼn huis wat geverf en opgeknap word, ʼn spul ander verantwoordelikhede hier en die verloklikheid van die internet, blogs en dies meer, kry ek dit nie reg om my storie en karakters die aandag te gee wat hulle verdien nie.
Ek sien dus baie daarna uit om die volgende deel van Dryfhout in afsondering te gaan skryf en net daarop te kan konsentreer. En as ek sê afsondering, bedoel ek afsondering. Daar is nie ʼn TV nie en ek sal ook nie eens internettoegang hê nie!
My kamera gaan egter saam en ek hoop om vir julle foto’s te wys van die huisie en omgewing wanneer ek terugkom.
Intussen was daar nogal heelwat verwikkelinge wat optredes betref. Ek sal die eerste week in Augustus alles kan bevestig, maar gee voorlopig vir julle die datums van en inligting oor gesprekke waarby ek betrokke gaan wees oor die langnaweek van Vrouedag.
Kalfiefees – Onrus
7 Augustus 2010 (Saterdag)
09:15 – 10:00 in die Roos-tent (langs die De Wet-saal).
Ek praat oor die Gys-boeke, verklap ʼn bietjie oor Meetsnoer en die lekkerste van alles is dat Karin Brynard (Plaasmoord) ingestem het om saam met my te gesels.
Dis baie vroeg so in die winter, maar ons moes ʼn produksie wat 10:00 in die De Wet-saal begin, in ag neem.
Die hele Saterdag (7 Augustus) by die Kalfiefees in Onrus, gaan ʼn fees wees vir boekeliefhebbers. Die Kalfiefees bied hierdie jaar ʼn skatkis van geleenthede aan. Gaan loer gerus in by www.kalfiefees-hermanus.co.za. Op die oomblik is nie al die boekbesprekings nog op die webblad aangedui nie, maar ʼn voorlopige program sluit ook gesprekke in van Douwleen Bredenhann (’n Hemelhoë Hekkie) met Kerneels Breytenbach, Deborah Steinmair (Marike se Laaste Dans) met Elna van der Merwe en Karin Brynard (Plaasmoord) maar daar is ander ook.
Stellenbosch
9 Augustus 2010 (Maandag)
10:00 (venue moet nog bevestig word).
So op Vrouedag gaan ek en Kristel Loots (Sjokoladesoene, Aspoesterskoene) oor die vroue-karakters in ons boeke praat. Enigiemand wat al van Kristel se baie boeke gelees het, sal weet sy het ʼn onoortreflike sin vir humor. Ek dink ons gaan lekker gesels.
Durbanville
9 Augustus 2010 (Nog steeds Maandag).
19:00 by die knus restaurant Kos en Kuns
Ek en Kristel Loots gesels ook hier oor vroue en ons boeke. Hierdie gaan gepaard met ‘n ete en lekker sjerrie.
Oor die Kalfiefees se boekbesprekings kan julle Marinda Ehlers kontak by [email protected]
Omdat ek tans min inligting oor die Stellenbosch en Durbanville geleenthede het, sal dit moontlik die beste wees om Lapa oor besonderhede te kontak. E-pos Mariëtte Wienekus by [email protected]
Nog ʼn nusie:
In die Vrouekeur van 13 Augustus kom daar ʼn artikel waar ek met Yolanda Barnard oor onder meer Meetsnoer gesels.
And that’s it, folks. Voorlopig. Ek sal teen 1 Augustus terug wees op die net, hopelik met ʼn Dryfhout wat ʼn hele ent verder is as wat tans die geval is.
Hoop ek sien van julle by ten minste een van die Vrouedag geleenthede.