Woorde, stories, mense, wonderlikhede – Onrus se Kalfiefees 2010


Ek en Karin Brynard aan die gesels. (Foto Marinda Ehlers)
Sjoe, ek skep nog asem. ʼn Besige, maar feestelike langnaweek lê agter die rug!
Dit het Saterdagoggend vroeg-vroeg afgeskop met die Kalfiefees se Boekbesprekings waar ek en Karin Brynard heerlik gesels het tussen tartende geure van boeretroos, pannekoek en ʼn magdom ander smulgoed. Ek was verras om soveel mense so op die koel oggend daar te sien en nog ʼn lekkerte was dat mense wat ingekom het om koffie en eetgoed te kom kry, sommer ook kom sit en luister het. Wat ʼn gesellige affêre. Baie dankie aan almal wat daar was en veral aan Karin wat bereid was om douvoordag uit Stellenbosch te ry om daar te wees.
En die dag het net al hoe lekkerder geraak. Die boekbesprekings was gevarieerd en interessant. Ons het baie gelag, soms ʼn traan weggepink en is sommer net op soveel vlakke verryk.
Alle lof aan Marinda Ehlers vir die wondere wat sy in so ʼn kort tydjie verrig het en vir die geleentheid wat sy vir ons geskep het om te praat oor, en te luister na die lekkerste van lekkertes: Boeke en stories! Ek hoop werklik dit word ʼn jaarlikse instelling.
Hier onder ʼn paar foto’s van die hierdie geleentheid, en later meer oor die ander twee geleenthede waar ek en Kristel Loots op Vrouedag opgetree het.

In die laat middagsonnetjie saam met Petrovna Metelerkamp. (Foto Marinda Ehlers)

Ek en Karin. (Foto Marinda Ehlers)

Ek, Elna van der Merwe (Huisgenoot Boeke), Deborah Steinmair (Marike se laaste dans) en Karin Brynard (Plaasmoord). (Foto Marinda Ehlers)